OM SAAM MET MUSIEK TE STAP.
In die begin....
Ek het op oom Olaf se regterbeen gesit. Met my 5 jarige oue wysvingertjies in sy groot sagte hande tokkel ons die Heidelied uit op die vleuelklavier.
Dit was waarskynlik my eerste bewuswording van musiek.
Olaf Andresen was veral bekend vir die Heidelied, My hart verlang na die Boland, en Hoor my Lied wat Gé Korsten gesing het in die fliek met dieselfde naam. (My pa was 'n proefleser by die Transvaler koerant en het van tyd-tot-tyd gediggies in die koerant geplaas gekry. Olaf het dit raakgesien en my pa gevra om lirieke te skryf vir liedjies. Hoewel my pa dit nooit gedoen het nie, het hulle 'n hegte vriendskap gevorm - veral nadat hulle uitgevind het dat albei lede van die Ossewa Brandwag was - waar my pa ook vir John Vorster ontmoet het.)
Een van my grootste bronne van bitterspyt is dat ek nie volgehou het met klavierlesse op laerskool nie.
Die belangstelling in musiek was maar altyd daar. Op hoërskool kon ek nie wag om op Sondagaande in die bed te luister na Evelyn Martin se versoekprogram op LM Radio nie.
My eerste LP was van Fritz Wunderlich - Duitse operasanger. Ek het dit by een van die smouse gekoop by Winburg se Landbou skou van 1966.
My ma het vir my 'n akoestiese staalnaar ghitaar gekoop in 1966. Maar as jy basies alleen groot word het mens seker nie veel kans op sukses om te leer speel nie Al is jy bewapen met Sloan se boek. Al wat ek onthou is hoe seer die staal snare my vingers gemaak het.
Musiekaande op Vrydae....
Gedurende die vroeë tagtiger jare was ek bevriend met Francois Breytenbach wat op sy pa se plot in Ooste van Pretoria (Bashewa) gebly het. In sy plaaswinkeltjie se stoorkamertjie het ons amper elke Vrydagaand musiek gemaak. Nie ek nie, maar op een-of-ander manier het die taak van "sameroeper" op my skouers beland. So langs die houtstofie en tussen die meelsakke en bokse en tabakreuk kan "handgemaakte", rou, aardse musiek nie beter klink nie. 'n Paar musikante:
Van L na R : Francois se rug, Advokaat Jan de Wet, Prof Andries Breytenbach met konsertina (ook opgetree in Spies en Plessis), Francois se ma en sy swaer Rudi.
Van L na R : Francois, Vic Pretorius (kontrabasspeler in SAUK Simfoniekonsert), Andries.
Ongelooflike tye en baie goed bygewoon deur mense van die omgewing. Soos vriend, Dr Ed Retief (geoloog), wat 'n diep, diep kennis van boeremusiek het, Jurg Myburg, radio omroeper en rugby kommentator, ens
Lucas Maree....
Gedurende dié tyd ( 27
Sept. 1985) was 'n show aangebied in die Aula teater van die
Universiteit van Pretoria. Ek, Francois en Ed het gaan kyk, spesifiek
vir ons Belgiese vriend Bernard Latellier. Die ander musikante was
Jannie du Toit, Tessa Ziegler en hierdie onbekende persoon by name
Lucas Maree. Hy was op die punt om sy eerste album "Kiekies" beskikbaar te maak.
Lucas was laaste op die program en toe hy opstap verstom ek my aan die man. Lang wit gewaad en laang, lang hare wat afhang tot onder sy blaaie.
Toe hy klaar is met sy show was ons sprakeloos. Buite in die foyer het Ed na my gedraai en gesê (amper beveel) "Kry daai man vir ons vir Vrydag-aand."
En so het dit ook gebeur. En my lewe was onherroeplik verryk deur die lewenslange vriendskap wat ons met die Maree's gehad het en nog het.
The Pretoria News 16 September 1985.
Gedurende die tyd het TRUK ook 'n maandelikse show aangebied, Kerslig, Vers en Melodie, aangebied deur Anneli van Rooyen. 'n Konsep wat ontstaan het in Jannie du Toit se huis. Ons het nooit 'n show gemis nie, en het mense soos Coenie, Jannie, Louis van Rensburg, Juanita, en later natuurlik vir Lucas sien optree.
Die SAUK ......
Ek was bevoorreg om Lucas te vergesel na talle opnames en konserte.
Gedurende een van die besoeke aan die SAUK het ons vir Minette en Monica saamgevat. As jy 'n opname gaan doen het by die SAUK kon dit lank vat, ure en ure. So het die vier van ons deur die "props " gestap om Lucas se beurt af te wag en afgekom op Bennie Boekwurm en Attie wat 'n rooineus handpop was in een-of-ander populêre kinderprogram. Tot ons verbasing was daar twee van elk.
Op 'n ander geleentheid het ek en Lucas koffie gedrink in die SAUK se kafeteria saam met regisseur Alwyn Swart. Lucas het hom vertel van 'n projek wat ons begin het. Ons het begin om 'n TV reeks vir kinders te skryf wat afspeel in 'n museum. Alwyn het dadelik gehou van die idee en het ons mooi verduidelik hoe die formaat moet wees vir voorlegging aan die SAUK. Ek dink die kennis-inhoud waarde van so 'n 13 episode reeks het dadelik Alwyn se verbeelding aangegryp. Ek het 'n naweek by Lucas op die plot gaan bly en ons het die eerste episode so-te-sê klaar geskryf. Ons het meer gelag oor die wat die twee karakters oorkom in die museum as wat ons geskryf het. Die geaardheid van die seun en meisie was sò dat die storie homself geskryf het. Ons het soms gehuil van die lag. En Lucas kon so lekker lag. Maar helaas, ons beplande trek Durban-toe en die neiging om Afrikaans af te skaal by die SAUK het ons entoesiasme maar ook laat kwyn..
Dit was by dieselfde plot waar ek op 'n stadium as 'n "ekstra" moes optree tydens 'n video verfilming van 'n opname van een van Koos du Plessis se liedjies wat Lucas gesing het. Op 'n stadium het ons vir Johan Stemmet by die SAUK raakgeloop. Hy't my erken en ons vertel hoe lekker hy en Johan van Rensburg gelag het vir my "bydra". Blykbaar het ek 'n baie bedonnerde kyk gehad wat baie van pas was.
Louis van Rensburg............ ( onthou Voshaarnooi?)
Een aand moes Lucas saam met Louis van Rensburg vir die radio by die SAUK opnames doen. Johan van Rensburg was die klankingenieur.
(Ek moet sê dat radionopnames is baie, baie minder tydrowend as video opnames)
Lucas en Louis het beurte gekry om ou geskiedkundige Afrikaanse liedjies te sing. Als het goed gegaan maar ek was geskok om te sien dat Louis as't ware totaal blind was. Hy was duidelik fantasties musikaal maar hy moes die papier met die lirieke omtrent teen sy neus moes hou om die woorde te kon lees. Ek was ontsettend jammer vir hom.
Laurika val van die verhoog af.........
Die Universiteit van Potchefstroom het musiekfees gehou gedurende 1986 - dink ek.
Van die kunstenaars wat sou optree was Laurika en daarna Lucas.
Ek het die Vrydag verlof geneem en ons was Potch-toe vir 'n onvergeetlike naweek.
Hierdie foto was agter die verhoog geneem terwyl Laurika haar beurt afgewag het. Lucas het sommer bietjie ghitaar gespeel om op te warm.
Laurika regs voor
Laurika was buite haarself van opgewondenheid want haar nuwe album is op die punt on te verskyn en vanaand sing sy 'n paar nuwe liedjies.. Sy vertel ons dat sy vir maande ernstig depressief was omdat sy nie nuwe materiaal kon kry om te sing nie. Een aand kom haar man by haar en vra wat sy dink van die liedjie wat hy geskryf het. Haar man (professor in ekonomie) was ook die naweek daar en wat 'n wonderlike persoon. Hy het in die Karoo op 'n plaas groot geword en kon skaars Afrikaans praat.
Chris speel toe Brief aan Mannetjies Roux vir haar. Sy kon dit nie glo nie.
Ons weet almal hoeveel egte boere liedjies uit sy pen gekom het. Hy vir ons 'n kasset gegee en ons het dit oor en oor gespeel op pad terug huistoe.
Terug by Laurika.
van agter die gordyne kon ons hoor sy is natuurlik 'n moerse sukses is. Tot alles skielik stil word.
Lucas koekeloer skelm om die gordyn.
Laurika het van die verhoog af geval. Omtrent 1 m hoog.
Die "spotlights" het haar verblind en sy het per ongeluk te vêr vorentoe getrap. Gelukkig het sy nie seer gekry nie en 'n grap daarvan gemaak.
Sy het daai naweek vir Lucas 'n baie gepaste en mooi kompliment gegee.
"Lucas, jy het 'n moerse "presence" op die verhoog" het sy gesê.
'n Paar maande later by Laurika-hulle se huis in Irene, het Chris vir ons vertel wat sy strategie is met die skryf van liedjies.
Hy gebruik 'n Afrikaanse gesegde om as basis te dien vir lirieke. soos, bv "Die son trek water", dan bou hy verder. Soos die liedjie vorder, verdwyn die aanvanklike tema partykeer heeltemal.
Nick Taylor...............
Ek is nie seker wie se besluit dit was om van Koos du Plessis se liedjies wat hy nooit opgeneem het nie, op te neem as 'n huldeblyk. Ek dink dit Lucas, Jannie en dalk Nick Taylor ook.
Lucas was die klankingenieur en die opnames was gedoen by Nick Talor se ateljee by sy huis tussn Pretoria en Krugersdorp. (Broederstroom?)
Die kunstennars was Luca, Jannie, Coenie, en Nick Taylor.
Een aand moes Lucas teruggaan na Nick se ateljee toe om vir Jannie weer op te neem. Omtrent 6 nm het Jannie opgedaag en ek het vir die eerste keer gesien hoe sulke opnames gedoen word met 18 "tracks".
Na Jannie weer weg was het ek en Lucas by Nick en sy vrou in hulle kombuis gaan koffie drink. Baie nice vriendelike mense!
Ons het op dié stadium in woonstel aan my skoonouers se huis gebly en my claim to fame is darem dat die omslag op ons kombuistafel ontwerp was.
As jong man het ek 'n plaat van Nick Taylor aangeskaf en dit saamgevat dat hy dalk vir my kan teken.
"Pierre, brings back some old memories" het hy geskryf.
Anton Goosen
Geskryf 10 Desember 2020:
Op 'n stadium (1987?) het Lucas my gevra om hom een aand te vergesel na 'n geleentheid naby Bronkhorstspruit wat gereël was deur die Junior Rapportryers. Gedurende die geleentheid was Anton Goosen vereer vir sy bydrae tot die Afrikaanse kutuur. Dit was by een-of-ander vakansieoord en nà die formaliteite was die "eregaste" (waarvan Lucas een was) uitgenooi vir die "after party" by die voorsitter se huis op 'n plot naby Bronkhorstspruit. Een-of-ander advokaat.
Behalwe vir Anton en Lucas was daar heelwat ander bekende mense maar ek het nie juis gesêls met hulle of Anton nie.
Toe ek en Lucas terugry huistoe, het die son sy kop in die Ooste uitgesteek.
Uit die bloute stel ek voor dat ons dalk vir Anton moet uitnooi vir 'n braai.
"Dit sal nogal nice wees" was Lucas se antwoord.
Op daardie stadium was ek onder die indruk dat Anton iewers in die Weskaap bly en was aangenaam verras toe die SAUK my sy telefoonommer gee. Hy het 'n plaas gehad langs die Hennopsrivier naby die sameloop van die Krokodilriver en die Hennopsriver.
'n Paar Sondae later het Anton toe by by ons kom kuier en dit was lekker om te sien hoe hy en Lucas land en sand gesêls.
Op sy beurt het Anton ons uitgenooi om by hom op die plaas te kom kuier.
Hoeveel keer ons op die plaas gaan kuier het, en hoeveel keer ek oorgeslaap het, weet ek nie. Die kuiers het plaasgevind op 'n ronde, geplaveide area met stompe en klip sitplekke rondom - net buite die goed toegerusde "cottage"reg op die wal van die river. Die "Gansbaailapa" met 'n fantastiese kuier-atmosfeer. Vuur was gemaak aan die rivier se kant van die lapa , onder groot Wag-n-bietjie bome. (Die foto van Minette en Ruan op my facebook bladsy, was geneem deur Anton reg onder die lapa, langs die rivier)
Dit was 'n ongelooflike stimulerende era. Ek en Andrée het baaie keer gepraat oor hoe intens en onder druk Lucas en Anton lewe. Ons het nagte omgepraat oor die veld, die sterre, die lewe, die humor in die lewe.
Ek onthou kere wat ek alleen by Anton gekuier het en sommer op die cottage se sitkamer se mat oorgeslaap het. Anton het 'n diep kennis en respek vir Eugene Marais en gesprekke wat my bybly was oor sy lewe, en digkuns. Anton het my die boek "Die Groot Verlange", wat handel oor Eugene Marais se lewe, laat koop dit en is tot vandag nog een van my kosbaarste besittings.
Anton is 'n mens wat hou van redeneer ( let wel nie sommer "praat" nie) en het mense om hom nodig om gedagtes mee te deel. Gedurende dié tyd het hy alleen op die plaas gebly en ek dink dit moes taamlik eensaam wees. 'n Mens het altyd welkom gevoel. Dag of nag.
Op die plaas was daar 'n ander dubbelverdieping huis wat Anton besig was om klaar te bou. Een aand het ons buite dié huis gebraai en gekuier. My blaas het bietjie begin pla en ek het opgestaan en river se kant toe gestap om "te kyk of die bok nog vas is" Uit die hoek van my oog het ek die lae paaltjiesheining op die rand van die rivierwal dopgehou, maar nie gesien dat daar 'n inham in die wal reg voor my was nie. Die volgende oomblik val ek omtrent 2 m ver bo-op takke en rotse langs die river. Gebreekte toon en been 6 weke in gips.
Die volgende naweek het ons na een van Anton se opelug shows by die Willem Prinsloo Museum naby Cullinan gaan kyk. Toe ons daar kom, was die optrede reeds aan die gang. Terwyl Anton sing, kom ek toe maar aangesukkel met die krukke om 'n plekkie op die grasperk te kry.
Skielik hou hy op met sing en sê:
"O, hier's Pierre. Hy het laas Saterdagaand by my kom kuier en het sommer in die nag verdwyn. Ons het hom eers Dinsdag onder 'n boom gekry. Van 'n krans afgeval"
Almal kyk vir my en lag.
Ons het baie keer gaan oorbly op 'n privaat wildtuintjie buite Warmbad. (Zwartkloof) Eenkeer was oa Lucas-hulle en Anton saam.
Anton het altyd sy ghitaar saamgevat as hy êrens gaan maar nooit gesing nie. Ook nie by die Gansbaailapa nie. Niemand het dit ook verwag nie. As ek saam met my tandartsvriend kuier verwag ek mos nie dat hy iemand se tand moet trek om my te vermaak terwyl ons kuier nie.
Lucas was anders. Hy het dit geniet om sy ghitaar uit te haal en spontaan te begin sing as die atmosfeer dit toelaat.
By Zwartkloof kon Lucas dit nie weerstaan nie.
Laataand. Die sekelbosvuur se vlamme gooi spookgedaantes teen die dorngbome se stamme. Lucas begin sing. Koos du Plessis se Kouervuur:
"Die kole gloei soos vroeër aande
maar die vuur is in my kop....."
Dis eintlik net onder sulke omstandighede wat Koos se woorde begin sin maak. Mens luister na Lucas en die woorde, jy staar na die vuur en jy word stil.
Ek het Anton vergesel na slegs 'n paar shows van ander mense en na net een van homself in Benoni.
Hy neem sy professie en kwaliteit van opnames baie erntsig op. Sosiale lewe en professionele meng nie.
Groot was my verbasing eendag toe hy my uitnooi om 'n "rehearsal" van die titelsnit van die album "Winde van verandering" by te woon op die plaas.
Die olifant
( geskryf 13 Desember 2020)
Een naweek in die Krugerwiltuin het ek, Anton en Ed Retief op 'n stil paadjie lang 'n olifant stil gehou wat rustig vreet aan 'n doringboom se takke.
Ek kan nie onthou wiè wàt gesê het nie, maar die gesprek het min of meer sò gegaan:
"Wat maak die olifant?"
"Hy eet"
"Nee ek bedoel wat mààk hy? Wat soek hy op die aarde? Wat is sy doel? Wat dra hy by tot die welsyn van die moeder aarde?"
Stilte
"Seker dieselfde as 'n miertjie , op 'n ander skaal"
"Seker. Maar definitief 'n meer edele en meer waardevolle bydrae as die mensdom."
Ons seker vir nog 10 minute gesit en kyk na die rustigheid van die olifant.
Durban
In 1989 het ons Durban-toe getrek.
Die sosiale omstandighede was totaal anders as in Pretoria. Omdat daar 'n relatiewe klein Afrikaanse gemeenskap is, het ons baie gou baie mede Afrikaners ontmoet en was gou in- en aangeneem deur die klein Afrikaanse gemeenskap.
Beide en Lucas en Anton het kom kuier.
Tydens een besoek het Anton ons gevat om te kyk na "Dead poet society" , een van sy gunstelinge. Nodeloos om te sê, myne ook daarna.
Vanweë Anton se onversadigbare belangstelling in musiek het ons baie aande na musiekoptredes en nagklubs besoek om na die musiekante te gaan kyk.
As voorsitter van die kultuur-kommittee en lid van die Gelofte Laerskool se Bestuursraad het ek musiekkonserte vir die skool gereël.
Optredes deur Lucas, Jannie du Toit, en Coenie de Villiers het darem gesorg dat die skoolsaal elke keer stampvol was. Carel Trichardt en sy vrou Petru Wessels het ook kom besoek aflê.
Toe kinders op hoërskool kom, het die kontak met Afrikaanse musiek en vriende begin taan. Die werk het my volle aandag begin eis.
UIt die oog.... ens.
Met Lucas se siekte het ek weer kontak gemaak met hom.
Sy laaste epos aan my was die een wat die seerste gemaak het.
Net een of twee sinnetjies waarin hy afsluit:
"More moet ek weer fokken tronk-toe gaan" (hospitaal)
Ek is vir ewig spyt ek kon nie sy gedenk-"diens"bywoon nie - nadat ek Ilse belowe het ek sal daar wees. Omstandighede het dit ongelukkig gladnie toegelaat dat ek Bloemfontein-toe kon gaan nie.
Gedurende 2012 het ek weer vir Anton op facebook raakgeloop.
Die ou vriendskap is hervat en nadat ons in April 2015 op Pringlebaai kom bly het, het ons mekaar redelik gereeld gesien. Hy is op Gansbaai. Ons is baie bly dat hy 'n wonderlike mens soos Estie ontmoet het wat sy lewe weer vol maak.
Eendag as die virus padgegee het, gaan daar weer ernstig gekuier word.
ALGEMEEN
Ek dink as daar een ding was waarvoor Lucas spyt was, was dat hy toegelaat het dat Leon Schuster hom gebruuik het in een van sy flieks. Baie keer het ons in Esselenstraat in Sunnyside gestap, dan het mense hom gestop en gesêls. Altyd vir hom gelag oor die insident. Ek kon sien dat hy wou slange vang maar het altyd koelkop gebly.
Lucas het die grootste respek vir Koos du Plessis se liedjies gehad en niemand kon daai liedjies sing soos hy nie. Maar hy het baie hard gewerk om die " Koos du Plessis" image uit sy loopbaan te kry. Almal het van hom verwag om Koos se goed te sing maar Lucas wou (met reg) gesien word as 'n kunstenaar in sy eie reg. Ek is bly vir hom dat hy dit later wel reggekry het.
Een konsert sal altyd vir my uitstaan. Ek en Andrée was een aand saam met hom na TRUK se Windy Brow teater in Johannesburg. Anneli van Rooyen was die aand aan die stuur namens TRUK as organiseerder van een van haar maandelikse Kerslig, Vers en Melodie opvoerings.
Tydens dié opvoerings was daar Afrikaans gesing of instrumentele items aangebied, bv klassieke ghitaar deur Tessa Ziegler, ens. Nie Engles nie.
Na pouse is Lucas die hoofkunstenaar. Hy begin met die ghitaar- inleiding van sy eerste item en ek kry amper 'n oorval.
Hy gaan "Green fields of France " sing. In Engels. Ek krimp terug in my stoek. Wat doen hy?
Niemand, maar niemand , wêreldwyd, kon dié liedjie speel en interpreteer soos Lucas nie. HY gee 'n ongelooflike vertolking van die liedjie.
Toe hy klaar is is die gehoor doodstil. Na omtrent 5 sekondes staan die gehoor op soos een man en gee hom een van die grootste standing ovations wat ek al gesien het. Ys gebreek. Die res van die aand was seker die beste vertoning van Lucas wat ek ooit gesien het.
DIE LEWE GAAN AAN.
Deesdae is dit maat stillerig op die musiekfront behalwe vir kuiers by Anton en sy optredes hier in ons omgewing.
My saamstap met musiek het maar net gebeur maar ons vriendskap met Anton en Lucas het ons lewens onmeetbaar verryk en ons na plekke gevat waar ons andersinds nooit sou kon kom nie.
Die memories moet mens maar koester en nuwes wat nog kom, diep waardeer.
Ek het nooit regtig foto's geneem nie'. Dit het nooit juis van pas gevoel nie.